NEELS JACKSON – 19 January 2005

Hallo almal

Ek en my vrou, Louise, het ‘n wonderlike week (voëlkykgewys én andersins) in die Suidelike Drakensberg deurgebring ter viering van ons 21ste troudagherdenking.

By Boesmansnek waar ons gebly het, het die bokmakieries byna daagliks in die plante voor ons huisie gesing, Kaapse kanaries het ‘n draai kom maak, gebande oewerswaels was gereeld daar rond en ons kon elke dag kyk hoe die witooievaars in die veld voor ons wei.

Die groot voëlkykuitstappie van die week was ‘n oggend saam met Malcolm Gemmell van Button Birding. Ons het hom in Donnybrook gekry waar die woudpapegaaie (Cape parrot – waarskynlik Suid-Afrika se mees bedreigde voël) sommer oor ons gevlieg het in die parkeerterrein van die Spar. ‘n Rukkie later het hulle skouspelagtig vertoon terwyl hulle die vruggies van die een of ander prunus-boom sommer daar langs die straat in die dorp gevreet het.
Hulle was ook luidrugtig besig in die bome van die kerk en die skool se tuine.

Van die dorpie af is ons na die Nxumeni-bos toe waar Louise haar eerste geelbekbosduiwe (Rameron/ African olive pigeon) gesien het. Ons het ook die rooibektiptol (bush blackcap) baie mooi gesien terwyl hy heen en weer oor die pad verby ons motor gevlieg het, en ‘n goeie blik op ruigtesanger (Barrat’s warbler) gekry terwyl hy in die struike en gras rondgewip het.

Mooimeisie (emerald cuckoo) het ons egter ontwyk, soos rooikeelfisant (rednecked francolin/spurfowl). Ek het mooimeisie al tevore hoor roep in Dlinzawoud naby Eshowe, maar nie een van dié twee voëls nog gesien nie.
Later die oggend het Malcolm ons geneem na ‘n grasveld waar blouswaels (blue swallow) broei. Ek het fotos geneem wat julle op Malcolm se webwerf kan sien (www.buttonbirding.com). Een foto was ook Maandag saam met ‘n beriggie oor die nesgate wat hulle vir die blouswaels grawe, in Beeld.

Saam met die blouswaels was daar ook swart saagvlerkswaels (black saw-winged swallows) en swart windswaels (African black swift) in die lug.

Ons het vergeefs gaan soek na Malcolm se logo-voël, die swartrugkwarteltjie (black rumped buttonquail) maar darem ‘n langbeenkorhaan (black-bellied korhaan) gekry in ruil vir die moeite om in die son op en af deur die grasveld te stap om die kwartel te probeer opjaag. Malcolm sê sy sukseskoers om die kwarteltjie wel te kry, is so 80%
Ons het die oggend afgesluit met nog ‘n nuwe voël vir ons, naamlik breëstertsanger (broad-tailed warbler).

‘n Ander oggend het ons afgery na Franklik-vlei toe waar ons talle mahemme gesien het. Die hoogtepunt van die oggend was egter ‘n grootriethaan (African rail). Op pad terug het Louise haar eerste veldpou (Stanley’s/Denham’s bustard) langs die pad gesien. Ons het later die week nog een langs die grondpad in na Boesmansnek toe ook gekry.
‘n Draaitjie deur Coleford-natuurreservaat het onder meer grondspeg (ground woodpecker) en edelvalk (Lanner falcon) opgelewer.

Tydens ‘n lang stap een oggend in die berg het ons verskeie jangroentjies (malachite sunbird) gsien, asook ‘n rooiborssperwer (red-breasted sparrowhawk) wat op en af langs een van die strome was en op een stadium baie mooi op n rots langs die stroom gaan sit het, sodat ek kon foto’s neem. Afrikaanse kwartels (common quail) het ook ‘n paar keer naby ons uit die gras opgevlieg en ek is nou tevrede dat ek hom goed genoeg gesien het om op my lewenslys af te merk.

Ander mooi voëls wat ons besoek lekker gemaak het, was langkuifarende (long crested eagle) pragtige witpenswindswaels (alpine swifts) die talle oostelike rooipootvalkies (Amur falcon) die koddige witgatspreeus (African pied starling) en die baie, baie witooievaars wat oral langs die paaie te sien was.

Ongelukkig het die weer nie saamgespeel dat ons teen Sanipas kon uitgaan nie, maar die kuier was baie lekker. Ek kan Malcolm Gemmell aanbeveel as ‘n bekwame, vriendelike en rustige veldgids wat moeite doen om jou teikenspesies vir jou op te spoor. Hy het ons R120 per uur gevra.
Neels Jackson